LUKAS 18:9-14 (2020-vertaling)
Ons mediteer oor nog ’n gelykenis wat Jesus vertel kort voor Hy in Jerusalem aankom (19:40). Jesus se gelykenis van die Fariseër en die tollenaar is die laaste van Lukas se unieke materiaal wat afwyk van Markus se narratiewe raamwerk. Dié gelykenis sluit aan by dié van die weduwee en die regter wat ook oor gebed handel. Dit is nog deel van Jesus se gesprek met Fariseërs oor wanneer die koninkryk van God kom (17:20). Die tema van regverdiging waarom die weduwee by die regter pleit, is hier ook die tema. Jesus se punt in reaksie op die Fariseërs is dat die aanbreek van God se koninkryk (heerskappy), nie met waarneembare tekens voorspel kan word nie. Ons regverdiging voor God by die koms van die koninkryk hang volledig van God af. Die vraag is of ons geloof sal behou tot wanneer die Seun van die Mens kom, aangesien die Seun van die Mens ons voor God regverdig.
Volgens Lukas vertel Jesus die gelykenis van die Fariseër en tollenaar om aan te toon hoe en met watter gesindheid dissipels op die Seun van die Mens moet wag. Jesus ontmasker mense wat met ’n houding van selfgeregtigheid lewe: “mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid” (vers 9). Jesus brei uit op dié gesindheid, naamlik dat selfgenoegsame mense op ander neersien. Hy kies die tema van gebed om dié mense se verwronge gesindheid uit te wys. Die houding van en hul benadering tot die koms van die koninkryk, kom juis aan die lig in die twee karakters se godsdientige handeling voor God. In ’n sin is godsdiens gevaarlik. Ons geloofspraktyke ontbloot ons hoogmoed en eiewaan, maar hopelik ook ons nederigheid en ondergeskikstelling aan God. Hoe verskyn jy voor God?
Die twee karakters in ons gelykenis is albei godsdienstig toegewyde mense. Albei besoek die tempel om te bid. Elkeen verteenwoordig ’n groep mense in die Joodse samelewing wat in sosiale terme status verwerf het. Jesus se bedoeling is nie om aan te dui elkeen in die groep wat verteenwoordig word, soos dié twee karakters is nie. Wat Jesus wel aandui is dat sosiale beoordeling en status van mense nie die grondslag is vir God se beoordeling van mense se houding en gesindheid nie. Sosiale aanvaarding en openbare godsdientige handelinge mag vir mense belangrike aanduidings wees om ander se vroomheid en vermeende verhouding tot God te beoordeel, maar God sien dieper en beoordeel volgens die maatstaf van sy koninkryk. Vir God gaan dit nie om ’n sosiaal veragte tollenaar of ’n sosiaal erkende Fariseër nie. Jesus wil weet of iemand se saak met God reggestel is.
Die vraag of iemand se saak met God reggestel is, is juis die pleit van die weduwee om aan haar reg te laat geskied, asook Jesus se vraag oor geloof in die Seun van die mens. Die Fariseër het dieselfde houding as die regter in die voorafgaande gelykenis. Die Fariseër het nie net oor homself gebid en al sy voortreflike godsdienstige praktyke voor God opgestapel nie. Hy het in werklikheid tot homself gebid. Hy was sy eie bron van regverdiging en redding. Hy het selfs méér gedoen as wat die wet van Moses verwag het. Hiervan behoort God kennis te neem. Sy eintlike verwagting is dat God hom op grond van homself regverdig moet verklaar. Jesus beoordeel dié houding en benadering tot gebed as self-verhoging. So iemand gaan nie na sy huis as iemand wie se saak met God reggestel is nie (vers 14).
Die tollenaar se houding en benadering tot gebed is egter opvallend anders as dié van die Fariseër. Sy hele ingesteldheid is dié van iemand wat bewus is van sy onwaardigheid voor God. Sy handeling (slaan op bors) en skugterheid (staan op afstand), asook sy beskroomheid om God aan te sien (nie na die hemel opkyk nie) getuig van sy bewussyn dat hy geen aanspraak het op God se regverdiging nie. Al wat hy kan sê is dat hy ’n bedelaar voor God is: “O God, wees my, die sondaar, genadig!” Hy verwys na homself as “die” sondaar, nie maar een van die sondaars nie. En, Jesus prys dié houding aan: “elkeen wat homself verneder, sal verhoog word.” Jou saak met God is ook deur Jesus reggestel.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Twintigste Week van Koninkrykstyd