Die Oxford Woord van die Jaar tradisie het in 2004 die lig gesien en poog om elke jaar die jaar se tendense en woelinge deur middel van ´n enkele woord te beskryf. Dit is gonswoorde, kleurryke terme, woorde wat op almal se lippe is en was. Woorde soos “chav” (2004), “podcast” (2005), “selfie” (2013) en “vape” (2014) gee ons telkens ´n blik op dit waarmee mense hulle in daardie jaar besig gehou het. In 2015 is die emoji gesiggie met trane van vreugde in die plek van ´n woord as een van die belangrikste simbole van kommunikasie vir daardie jaar gekies.

Sedert 2016, só beweer ´n radio-aanbieder op ´n bekende radiostasie, het die woorde bietjie donkerder geword. Dink maar aan “post-truth” (2016), “climate emergency” (2019), “goblin mode” (2023) en “brain rot” (2024). Woorde wat iets sê van die vraagstukke of uitdagings waarmee mense daagliks worstel.  2021 se woord van die jaar, “vax”, sal ons vir altyd aan die Covid pandemie en inperkings herinner.   In 2025 is die begrip “rage bait” gekies, ´n term wat beskryf hoe mense doelbewus aanlyn inhoud publiseer wat ander moet skok of sterk reaksie moet ontlok om sodoende meer interaksie en aanlyn besoeke  tot gevolg te hê.

Dit is ´n versameling van kort woorde wat baie oor ons mense, ons geskiedenis en samelewing sê. En alhoewel hierdie woorde sekerlik gepas is, en vraagstukke baie raak beskryf, sou ek graag iets anders uit ´n jaar wou kies om met my saam te neem in die nuwe jaar. Woorde dra gewig, dit is kragtig. En die woorde wat ons in ons alledaagse kommunikasie kies, kan dikwels maak of breek.

Dit het my laat wonder of ons – kinders van die Lig, hande en voete van die ewige God – dalk ´n ander woord as fokuspunt vir die nuwe jaar kan kies. My gedagtes het dadelik na die Bergpredikasie gespring.  ´n Paar woorde, of begrippe, uit hierdie bekende boodskap trek my aandag. Woorde wat seën en heelmaak. Woorde wat uitreik met die doel om die wêreld ´n beter plek te maak.

Jesus verduidelik hoe ons sy seën kan ervaar en gebruik begrippe soos “afhanklikes, sagmoediges, treurendes, dié wat honger en dors na wat reg is, barmhartiges, dié wat rein van hart is, vredemakers en vervolgdes”. Sterk woorde. Woorde en idees wat ´n samelewing heeltemal kan verander.  Woorde wat elke dag in ons gesprekke en gedagtes moet wees indien ons regtig ´n betekenisvolle verskil wil maak.

Dit is ´n lekker uitdaging: Ek wil graag as ´n afhanklike, ´n sagmoedige, ´n barmhartige en ´n vredemaker die nuwe jaar benader. Ek wil huil saam met die wat huil en aktief soek na dit wat reg is, selfs wanneer dit vervolging beteken. Ek wil graag hê dat hierdie woorde, en nie die nuus in die koerant of nuwe tendense nie, my aksies en gedagtes sal rig.  Ek glo dat die regte woorde my kan verander, en miskien ook die mense naby aan my. Kies gerus vir jou ´n nuwe woord van die jaar, en gaan leef dit uit.

In Jesus se eie woorde: “Julle moet so lewe dat julle ´n helder lig uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys.”

En soos Johannes ons herinner: “Dié lig skyn in die duisternis, en die duisternis kan dit nie uitdoof nie.” Amen.

Geskryf deur Susan Goosen