
Ek word wat ek besluit
Die boodskap was op die voorlaaste Sondag van Koninkrykstyd in 2020, tydens die Covid-epidemie met die ontwrigtende effke daarvan voelbaar vir alle mense. Die gehoor was ’n klein groepie lidmate van die NGK Zwaanswyk in Kaapstad. Die gemeente se predikant het in die Covid-tydperk verhuis na Skotland en die gemeente het pas weer begin om fisiese eredienste te hou met besoekende predikers. Rigters 4 vertel die verhaal van die rol van Debora en Barak om die Israeliete in die Beloofde Land te bevry van die onderdrukking van koning Jabin van Kanaän. Die boodskap sluit aan by drie woorde wat uit die boek Rigters na vore kom en iets vertel van die volk van die Here, asook van God se karakter en werkswyse. Die uitgangspunt van die boodskap is dat patrone deel is van die menslike lewe en dat dit dikwels ons gedrag bepaal, ook wat ons aanbidding van God betref. Die boek Josua beklemtoon die patroon dat Israel in die Beloofde Land telkens hul rug op God keer, vreemde gode begin aanbid, deur God oorgegee word aan die heidennasies wat hulle onderdrauk. Dan roep die Israeliete tot God en Hy stuur ’n rigter om die volk te verlos vanuit die onderdrukking. Dit is ook belangrik om die boek as’t ware van die laaste vers af te begin lees, waar dit geskryf staan dat elkeen gedoen het wat reg was in sy eie oë. Dit bring iets aan die lig van ons omgekeerde waarde, maar ook van God se anderste werkswyse. God keer ons wêreld om deur sy genade. ’n Tweede aspek is dat God mense gebruik soos Debora, Barak en Jael om sy wil te doen en sy planne in die wêreld uit te voer. Derdens is God telkens bereid om weer na Israel se hulpgeroep te luister en uitkoms te bied. Die vraag is hoe ons hierdie boodskap, veral God se roeping van mense en sy bereidheid om weer en weer te luister na ons hulpgeroep, kan toepas in ons besondere konteks.