Kies dan vandag wie julle wil
Die boodskap was teen die einde van Koninkrykstyd 2020, terwyl die Covid maatreëls gegeld het. Die gehoor was bejaarde persone in Huis Vergenoeg in die Paarl. Die uitgangspunt van die boodskap is dat alle mense, ook gelowiges, keerpunte in hulle lewe bereik wat uitdagings en beslissings van hulle vra. Josua 24 beskryf sodanige keerpunt in die lewe van Israel, kort voor die dood van Josua hulle leier. Die volk het Kanaän bereik en daarin begin vestig. Hulle beleef dat God al sy beloftes vervul het. Josua daag die volk uit om te kies wie hulle voortaan wil dien: Die gode van hul voorouers in die tydperk anderkant die Eufraat en in Egipte, of; die gode van die nasies wat saam met hulle in Kanaän woon, of; God van die Eksodus en hulle geskiedenis. Die volk kies om die Here te dien wat hulle uit Egipte gered het en Josua sluit ’n verbond met God namens die volk. Die Covid-epidemie van 2020 verteenwoordig ’n soortgelyke keerpunt in die lewe van die huidige wêreld bewoners. Die verhaal van Josua 24 staan ook as uitnodiging vir gelowiges en die kerk van Christus om hul keuse vir God te herbevestig.