
Epifanie – haal af die maskers
Naas Paasfees en Kersfees, is Epifanie die belangrikste feestyd in die kerk. Epifanie word wêreldwyd op die 6de Januarie, en die Sondae daarna gevier. Epifanie kom van ‘n Griekse woord wat verskyning of manifestasie beteken. Dit word openbaar wie Jesus werklik is – dat Hy die Seun van God is, self God is. Die gordyn word bietjie weggetrek, en ons sien iets van God se heerlikheid.
Die tekste waarmee Epifanie meestal verbind word, is die Wyse Manne uit die Ooste wat die ster gesien en toe na Bethlehem gereis het. Hulle erken en aanbid die Jesus-kind as Here. Dit kom aan die lig dat, al is hulle nie Jode nie, is Hy ook hulle Here en God. Toe Jesus gedoop is, en die Heilige Gees soos ‘n duif op Hom neergedaal het terwyl die Vader Hom as sy Seun benoem, het dit ook aan die lig gekom dat Jesus deel van die Drie-eenheid is. Toe Hy by die bruilof in Kana sy eerste wonderwerk gedoen het, water in wyn verander het, het dit ook aan die lig gekom dat Jesus die Seun van God is. Daaroor gaan die Sondae ná Epifanie – die openbaarmaking van die Drie-enige God.