
“Ek Is”, is die Een wat jou dors wil les
Dis ‘n bekende verhaal oor Jesus se gesprek met die naamlose Samaritaanse vrou by die put van Jakob. Dit het dieper lae van betekenis, wat maklik misverstaan kan word. Mens sou ‘n hele reeks preke oor dié besonderse gesprek tussen Jesus en die vrou kon maak; dis immers die langste opgetekende gesprek wat Jesus met enigiemand gevoer het.
Kom ons ruim net eers ‘n misverstand uit die weg. Dit gaan hier nié oor ‘n slegte vrou, ‘n prostituut, nie. Dis nie ‘n sedepreek dat sy haar moet bekeer nie. Trouens, Jesus verwag nêrens dat sy haar sonde van prostitusie bely nie. Nêrens staan hier dat sy op die middaguur kom waterskep het oor sy skaam was vir haar reputasie nie. Dat sy vyf mans gehad het kon, in daardie tyd, maklik beteken dat ‘n paar van hulle oorlede is, of dat van hulle haar gewoon weggegooi het, soos wat óók dikwels in dié tyd gebeur het. Die vyf mans wil eerder iets van haar weerloosheid as vrou onderstreep. En die man wat sy nou het, wat ook nie haar man is nie, kon na ‘n leviraatshuwelik verwys – ‘n familielid wat hom oor haar as alleenloper vrou ontferm. Dat sy ‘n slegte vrou is, die skuldige een, bloot oor sy die vrou in die verhaal is, kom uit ‘n manlike lees van die Skrif.