Verheerliking op die berg
Vandag is die laaste Sondag van Epifanie. Epifanie gaan oor die aan-die-lig-kom, die bekend-word, die openbaarmaking van wie Jesus regtig is. Epifanie beteken die gordyn word bietjie weggetrek, sodat die lig vir ‘n moment helder op Hom kan skyn, ons vir ‘n oomblik sy heerlikheid kan sien, God se heerlikheid, al is dit dan ook net die naglans daarvan.
Maar, as ons eerlik moet wees, gebeur dit net in uitsonderlike gevalle. Daar kom mos maar in ‘n mens se lewe net enkele momente van klaarheid, ekstatiese belewenisse waar ons agterna eerlik kan sê: ek het die Here se stem gehoor, ek het sy teenwoordigheid kennelik ervaar! Want meestal, dit moet ons erken, sien ons die Here nie, ervaar ons nie regtig sy teenwoordigheid nie. God is dikwels verskuil, in ‘n wasigheid verhul, selfs afwesig. So voel ons, veral in ons tyd. In die teologie gaan die groot gesprek deesdae oor: “the hiddeness of God”, “die Verborgenheit Gottes”.
Miskien help hierdie dramatiese verhaal van Jesus se verheerliking op die berg ons ‘n bietjie. Kom ons beleef dit net weer. Maar dan nie met die verwagting om te verstaan nie, helder te sien nie; uiteindelik kan dit net in verwondering laat voor die misterie van God.