![God as Regter](https://clf.co.za/wp-content/uploads/sermons/2022/11/God-as-regter.jpg)
God as Regter
Om God se wese volledig te omskryf, is nie moontlik nie. Wie presies God is, hoe Hy is, waar Hy is, van wanneer af … dit gaan bokant ons begrip uit, dit lê anderkant ons woorde. God is die groot misterie, die geheimenis wat ons nooit finaal kan ontrafel of kleinkry nie; ons kan alleen maar in verwondering voor God se grootheid en goedheid buig.
En tog gee die Bybel vir ons ‘n woordeskat wat ons help om met God en oor God te praat, om God by benadering te ken en om fasette of eienskappe van God te probeer verduidelik. Dis gewone menslike woorde en beelde – ons kan dit ook metafore noem. Hierdie metafore kom uit ons alledaagse lewe. Uit die familielewe is die woord “vader” geleen, om God se omgee en liefde mee te beskryf. Soms word die woord “moeder” ook gebruik. Uit die regeerkunde word die woord “koning”, “heerser” of “Here” gekies om God se wil vir ons en sy beskikking oor ons lewe mee te beskryf. Uit militêre taal word woorde soos “Here van die Leërskare” gekies, of ‘n beeld soos ‘n “veilige vesting” word gebruik om God se beskerming mee te verduidelik. Uit die fisika kom begrippe soos “hoog daarbo” of “die oneindigheid”. Uit die natuurwetenskappe word “hemelgewelf” gebruik om God se verhewendheid te beskryf, ‘n “wolk” vir God se heilige teenwoordigheid of ‘n “rots” vir sy vastigheid en trou. Uit die kunswêreld word woorde soos “skoonheid en prag” of “ligglans” gebruik om God se heerlikheid in woorde te probeer sê – alles menslike woorde en beelde. Een so ‘n beeld kom uit die regswêreld, wanneer God ‘n “regter” genoem word, ‘n regter op ‘n regterstoel, met Christus aan sy regterkant.
Wat word daarmee bedoel as die woord regter vir God gebruik word?