Soek die Here
Dis belangrik om net eers te vra: teen watter agtergrond is dié teksgedeelte geskryf. Vir wie was en is die boodskap bedoel?
Die Profeet is gestuur na die Jode wat toe nog in ballingskap sit, in die vreemde Babilon. Hierdie ballinge was erg getraumatiseerd, verslae en verneder, uitgelewer aan ‘n heidense volk. Daar was nêrens ‘n tempel om te aanbid nie. Vaagweg kon hulle nog onthou van die tyd, sewentig jaar terug, toe hulle nog geborge daar in Jerusalem gelewe het, die tyd toe God nog by hulle was, sy tempel stewig tussen hulle gestaan het, toe hulle nog as God se uitverkore volk op God kon vertrou. Maar nou het God hulle skynbaar hier in die vreemde vergeet, het die Here sy rug op hulle gedraai. Vir hulle was God afwesig. Of, het sommige ontnugter gewonder: bestaan God ooit?